Besigheid van die Jaar 2015


MOSSELBAAI – Die regering se Operasie Phakisa hou groot voordele vir die dorp in ten opsigte van vooruitgang ten opsigte van werkskepping, die verbetering van gelykheid en die vermindering van armoede. Dit is die boodskap van mnr Vusi Khumalo, president van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid, Vrydagaand tydens die plaaslike Besigheidskamer se jaarlikse gala-aand by die Diazstrand Hotel.

Khumalo en me Sharna Fernandez, speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement, was  die gassprekers. Die dorp se top sakeondernemings en sakelui is ook vereer.

Phakisa is deur die regering aangekondig nadat president Jacob Zuma in Augustus 2013 Maleisië besoek het. Die twee hoof projekte van Phakisa is rondom die marine ekonomie en gesondheid.

Volgens ‘n studie wat by die Nelson Mandela Metropool Universiteit (NMMU) gedoen is, is die ontwikkelingspotensiaal van die land se oseane tot die GDP (is dit die Bruto Binnelandse Produk?)  ‘n reuse R54 biljoen en die moontlikheid van  316 000 werksgeleenthede. ‘n Analise wat in 2013 gemaak is, het bevind dat daar nege sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie is wat ‘n beraamde GDP van R120 tot R177 biljoen teen 2033 kan genereer met meer as dubbel die aanvanklike werksgeleenthede.

Die regering het reeds vier kritiese areas geidentifiseer om die potensiaal van die land se uitgestrekte kuslyn te ontgin. Dit sluit in marine vervoer en vervaardiging, die herstel van bote en olieplatforms, die instel van akwakulture en marine beskermingdienste en seebeheer.

Mosselbaai het reeds ‘n aktiewe hawe met ‘n infrastruktuur wat dit ideaal maak om operasies uit te voer, vaardighede te ontwikkel, kapasiteite te bou en markaandeel te groei. Mosselbaai kan die Mekka van klein- en plesierbootherstel aan die kus word. Veral vissersbote en oseaan seiljagte kan gediens word. Die kuslyn maak dit ook ideaal geskik vir die kweek van mossels en oesters.

“Mosselbaai se sukses om die vrugte van Operasie Phakisa optimal te pluk sal afhang van die gesamentlike rolle wat besighede, arbeid en die regering speel om ‘n sukses van die inisiatief te maak,” het  Khumalo gesê en bygevoeg dat hy dink die Mosselbaai Besigheidskamer is die beste organisasie om hierdie drie rolspelers bymekaar te bring om uitvoer aan die projek te gee.

TOEKENNINGS

Die Sakepersoonlikheid van die Jaar is Tossie Steyn. Die afgelope 12 maande was ‘n bloeitydperk vir hierdie bekende sakeman.  Hy het mede-eienaar van beide die Wilderness en   Diazstrand Hotel geword. Hy het Reebokstene, die grootste vervaardiger van kleistene in die Suid-Kaap gekoop en is ook die eienaar van Steyns Antiques, die grootste antieke meubelwinkel in die Suid-Kaap.

In die A-afdeling vir ondernemings met ‘n omset van meer as R200 miljoen, het die Life Bay View Privaathospitaal met die louere weggeloop. Die onderneming wat bykans 20 jaar gelede met 40 beddens geopen het, sal na die nuutste uitbreidings met 147 beddens spog en teen die middel van 2016 word nog ‘n uitbreiding beplan.

Die hospitaal word landwyd as ‘n besonderse gesondheidsfasiliteit aangeskryf met ‘n uitsonderlike harteenheid.

Mikeva Groothandel was die ander finalis in hierdie kategorie.

In die B-Afdeling het die familie-onderneming Gastao’s Quality Foods die toekenning gekry. Hulle verskaf hoë kwaliteit voedsel aan die restaurant- en hotelbedryf van Plettenbergbaai tot by Riversdal. Hul jaarlikse Voedselexpo is ‘n bekende geleentheid op die kalender.

Die ander finalis was Suid-Kaap Kollege Mosselbaai.

In die C-afdeling is Oliver Tyres bekroon. Lorette Grobbelaar, wat onlangs as die nasionale wenner van die Suid-Afrikaanse Besigheidsvrou van die Jaar aangewys is, het namens die onderneming die toekenning ontvang.

Die ander finaliste was Eden Bio Fuels en Hartenbos Eiendomme.

(Denise Lloyd)

business of the year mossel bay

Mosselbaai Besigheidskamer se sakewenners van die jaar 2015 is van links: Thereza de Norega van Gastao’s Quality Foods (wenner B-Afdeling),  Tossie Steyn, Besigheidsman van die Jaar, Lorette Grobbelaar van Oliver Bande (wenner C-Afdeling) en Petri Conrade van Life Bay View privaathospitaal (wenner A-Afdeling).

(Foto: Denise Lloyd)

 


You might also like these articles: